Trots op Namibië
Namibië is ’n gesogte land. Ons weet dit. Daarom kan ons dankbaar wees vir ons regering en ’n land waar ons in vrede en in ’n polities en ekonomies bestendige omgewing ons sake kan bedryf.
Soms pla vertragings wat vooruitgang strem, soos die elektroniese stelsel vir dubbele oorplaatjies wat lank verby spertyd gesloer het voordat ’n aankondiging
uiteindelik einde Julie gemaak is. Dieselfde geld vir die skaapbemarkingskema wat blyk om ’n veel taaier toffie te wees. In ses jaar se tyd is daar nog nie duidelikheid oor ’n nuwe bemarkingsbedeling nie. Die feit dat die onlangse kabinetsaankondiging van ’n ad valorem-heffing van tussen 15% en 30% op die transaksie-uitvoerwaarde ook afwaarts aangepas kan word tot op ’n waarde van so min as 0 % bring ’n nuwe sprankie van hoop. ’n Mens vertrou dat die vryemarkbeginsel sal seëvier wanneer die nuwe bemarkingsbedeling in werking tree sodat die jarelange onsekerheid plek kan maak vir ’n permanente, werkbare oplossing. Nie net ter wille van skaapprodusente wat reuseverliese gely het en steeds ly nie, maar ook in belang van volhoubare produksie en groter ekonomiese stabiliteit.
Kyk ons na grondhervorming, kan Namibië as ’n Afrika-model voorgehou word. Eise vir voorvaderlike grond (soos in Suid-Afrika), grondgryping (soos in Zimbabwe) en die nagmerrie-ervarings van boere wat op vlug moes slaan ná die bevryding van die koloniale juk in Afrikalande is Namibië gespaar. Danksy die nugtere benadering van die regering kan daar, soos onlangs ook op landwye slypskole, sinvol besin word oor die pad vorentoe met die nuwe voorgestelde Wet op Grond.
Suksesse van die Teenkorrupsie Kommissie en Kompetisie Kommissie is in hul kort bestaan eweneens indrukwekkend. Die feit dat regverdige uitsprake ná indringende ondersoeke volg en sake nie so lank soos in ons howe sloer nie, is ’n riem onder die hart.
Die amptelike bekendstelling van die Criminal Justice Forum vroeg vandeesmaand gee nog’n tree vorentoe om Namibië ’n nog beter land te maak om in te bly. Pogings gaan nou aangewend word om die tot dusver taamlik geïsoleerde afdelings in die regstelsel te koördineer en samewerking tussen hulle te bevorder om die afhandeling van hofsake te bespoedig.
Ja, daar sal altyd kwessies wees wat pla. Kyk ons egter na die totale prentjie, het ons rede om trotse Namibiërs te wees.
Landbou sê welkom vir Ronelle
Ronelle Rademeyer, ervare en opgeleide joernalis, het middel Julie by Agriforum ingeval.
Sy is bekend vir haar veelsydige joernalistieke loopbaan met onder meer landbou as ‘n spesialiteitsveld. Haar passie vir die joernalistiek kring veel wyer met die finale fase van ‘n meestergraad in mediabestuur wat aangebreek het. Ronelle is steeds ‘n Matie in murg en been.
Vir die afgelope vyf jaar was Ronelle onder meer verantwoordelik vir “Landboufokus” in Republikein. Sy is ‘n plaasnooi van die Otjiwarongo-omgewing waar haar pa, André en haar ma, Tilla Pretorius, op die plaas Erundu boer. Op die buurplaas boer haar jongste suster, Tilla, en haar man, Callie Steenkamp, ook sekretaris van die Otjiwarongo Boerevereniging. Tilla het haar meestersgraad in landbou oor Friesperde aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Ronelle se joernalistieke loopbaan het begin in Suid-Afrika, waar sy by die vrouetydskrif Sarie en die dagblad Beeld diep spore getrap het voordat sy en haar gesin na haar geboorteland teruggekeer het.
Oor haar loopbaanskuif sê Ronelle: “Ek is opgewonde en beskou die meer gespesialiseerde landbou-joernalistiek as ‘n nuwe uitdaging.”
Ronelle word as ‘n aanwins vir Agriforum beskou en sal voortaan in diens van die veel groter landboufamilie staan. Agriforum sê welkom!
Blik op die toekoms van beesvleispryse
Die Namibiese beesvleisbedryf bevind hom midde in ’n pryssituasie wat Meatco as “die perfekte storm” beskryf. Produsentepryse by abattoirs het die laagste vlak in jare bereik met speenkalfpryse wat in teenstelling daarmee die hoogste in nege jaar is.
Die waardevermindering van die euro het die pryse wat Namibië vir sy beesvleis oorsee verdien, negatief beïnvloed. Daarteenoor het die vraag na speenkalwers in Suid-Afrika danksy laer voerpryse toegeneem, met ’n gunstige uitwerking op die plaaslike speenkalfmark.
Dit volg nadat Europese beesvleispryse gedaal het omdat verbruikers se besteebare inkomstevlakke weens verhoogde belasting onder druk gekom het. Die hoër belasting is genoodsaak deur die finansiering van regering-gewaarborgde skuld – dít terwyl die ekonomie steeds op sy knieë is.
Kenners meen egter die impak van hierdie sogenaamde “perfekte storm” op die SA-speenkalfmark gaan oor die volgende jaar verminder. Dit gaan hand aan hand met die verwagting dat mieliepryse in 2011 sal styg weens kleiner oes-opbrengste. Derhalwe sal die vraag na speenkalwers aanstaande jaar daal.
Hierdie voorspelling is gegrond op die jongste kwartaallikse prysvoorspelling deur die Buro vir Voedsel- en Landbou-beleide (BFAP). Die BFAP is ’n onafhanklike navorsingseenheid van die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Stellenbosch, die Wes-Kaapse departement van landbou en die Navorsingsinstituut vir Voedsel- en Landbou-beleide (FAPRI).
Die BFAP maak gebruik van makro-ekonomiese faktore soos die olieprys, wisselkoerse en soja- en mieliepryse om bewegings in pryse te voorspel.
Intussen het pryse by Agra se jaarlikse speenkalfveilings teen saktyd vir die tweede agtereenvolgende week ondanks die reuse-aanbod, hul hoë vlakke gehandhaaf.
Patrick van der Westhuizen, Agra se operasionale bestuurder: lewendehawe, sê ofskoon digby die 3 000 speenkalwers tydens die veilings op Grootfontein en Gobabis aangebied is, kon die aanbod nie daarin slaag om pryse laer te dwing nie.
Speenkalfpryse het in die week van 30 Julie tussen N$15,63 per kilogram en N$13,80 per kilogram gewissel, afhangende van die speenkalwers se gewigte.
Die Vleisraad sê in sy nuusbrief van 6 Augustus die gemiddelde netto prys van N$15.46 per kilogram vir ligte speenkalwers was in die week van 30 Julie 2010 net 0.5% laer as dié van die vorige week.
Volgens die BFAP se jongste prysvoorspelling word ’n 2.23% toename in Namibiese karkaspryse (A2/A3) van 2010 tot 2011 verwag met ’n verdere styging van 6.19% in pryse vanaf 2011 tot 2012.
Speenkalfpryse, aan die ander kant, sal na verwagting met 1.6% daal tussen 2010 en 2011 en met nog 5.6% tussen 2011 en 2012. RSA-karkaspryse kan egter onder aansienlike druk kom wanneer voorsiening in die derde kwartaal van 2011 toeneem.
Hoewel die verwagting is dat die Suid-Afrikaanse ekonomie oor tyd sal aanhou versterk, behoort die relatief sterk wisselkoers die tempo waarteen vleispryse gaan styg te demp. Meatco se produsentepryse sal daarom na verwagting in die nabye toekoms sywaarts beweeg.
Meatco sê egter produsente moet in gedagte hou dat die huidige ekonomiese toestande gesien kan word as die slegste moontlike scenario vir dié slagreus. Sou die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die regering besluit om die rand se waarde kunsmatig af te bring om groei te stimuleer en werkskepping te bevorder, kan die situasie egter baie anders lyk.
Wat die Suid-Amerikaanse beesvleisbedryf betref, blyk dit uit die Wêreldbeesvleisverslag (WBR) dat Brasilië se tekort aan slagosse na verwagting tot 2014 gaan voortduur. Die getal slagosse van twee jaar en ouer gaan van 1,53 miljoen in 2010 tot 1,04 miljoen in 2013 verminder. Dit verteenwoordig ’n afname van 32%.
Intussen het Argentinië in die 2009/2010 kwota-periode net 66% van sy kwota (18 500 ton) van Hilton-snitte aan die Europese Unie gelewer. Altesaam 75,6% van dié lewering het uit kruisskyf en lende bestaan. Gedurende Junie het die besendingsporsie van dié snitte egter teruggeval na 69% vanweë uitvoerders se haas om soveel as moontlik van die kwota vol te kry asook ’n gebrek aan dié hoëwaarde snitte.
Luidens die WBR het ten minste 2 085 beeste weens die koue in Paraguay gevrek.




